Switserse kantons

'n Duitse kaart van Switserland wat die kantons aandui

Die grondgebied van Switserland is sedert 1979 in 26 Kantons (enkelvoudig: kanton) (Frans:cantons, Italiaans:cantoni, Romansch:chantuns) verdeel. Hulle is deelstate van die Switserse Konfederasie.

Elkeen van die kantonne beskik oor sy eie grondwet, wetgewende mag, regering en howe. Die meeste kantonale parlemente is eenkamerstelsels met tussen 58 en 200 setels. 'n Klein aantal van parlemente word deur sogenaamde Landsgemeinden gevorm, dit wil sê 'n vergadering van alle burgers wat oor wetsake besluit neem. Vroue het in enkele kantonne eers in 1971 stemreg by die vergaderings gekry.

Alle aangeleenthede wat volgens die Switserse grondwet nie uitdruklik onder die gesag van die konfederasie val nie, word deur die kantonne gereël. Ook die graad van selfregering wat die munisipaliteite geniet, word deur die kantonne bepaal en verskil dus grootliks. Daar is ook groot verskille wat die oppervlakke en bevolkingsyfers van die kantonne betref: Oppervlakke variëer tussen 37 en 7 105 vierkante kilometer, terwyl die bevolkings tussen 14 900 en 1 244 400 beloop.

Direkte demokrasie in die vorm van algemene vergaderings word ten opsigte van kantonale sake tans nog slegs in die kantonne Appenzell-Innerrhoden en Glarus toegepas. In alle ander kantonne gaan burgers nou stembus toe om hulle demokratiese regte waar te neem.

Stemgeregtigdes tydens die Landsgemeinde (Algemene Vergadering) van die kanton Glarus in 2009

Sedert die stigting van die Franssprekende kanton Jura in 1978 is daar geen nuwe kantonne meer geskep nie. Volgens die grondwet van 1999 is daar amptelik 26 kantonne. Die aantal state wat 'n rol speel by die verkiesing van die Eerste Kamer (Duits: Ständerat, Frans: Conseil des États) van die Switserse Konfederasie en die stemming by federale wetsontwerpe, beloop egter 23: Die kantonne Unterwalden, Appenzell en Basel bestaan elkeen uit twee halfkantonne. Unterwalden word verdeel in Obwalden en Nidwalden, Appenzell in Appenzell-Innerrhoden en Appenzell-Ausserrhoden en Basel in Basel-Stad en Basel-Landschaft.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search